Verhale van spoke, sieners en spiritiste uit Afrikaanse monde

Die Eugène Marais-stigting se gespreksreeks “In gesprek met Eugène Marais” het vanjaar afgeskop met ʼn interessante gesprek deur die joernalis en skrywer Johannes Bertus de Villiers oor die verstommende verhaal van spoke, sieners en spiritiste wat Afrikaanse mense deur hul geskiedenis vergesel het.

Johannes Bertus de Villiers

Johannes Bertus de Villiers is ʼn joernalis en dosent aan die departement joernalistiek aan die Universiteit van Stellenbosch. Hy is ook die skrywer van twee boeke: Agter die somber gordyn en Die Einde van die Wêreld (En hoe om Dit te Oorleef).

Eugène Marais het behalwe sy tientalle ander belangstellings ook belanggestel in sogenaamde bonatuurlike verskynsels.

Hy het ook graag vir kinders van feetjies vertel om hulle te leer om hulle verbeelding te gebruik om uiteindelik skeppend en nuut te dink.

Tydens sy verblyf in Europa het hy waarskynlik meermale vertonings van sogenaamde bonatuurlike verskynings bygewoon.

Sy vriendin in Londen, Marie Corelli, het hom bekendgestel aan absint, spiritualisme, astrale projeksie, Egiptologie en die piramides, en baie meer.

Vandag reken die meeste mense nog dat sekere verskynsels bonatuurlik is. Telkemale het onbegryplike dinge gebeur, dinge wat mense nie kon verklaar nie.

Die uitdaging wat die bonatuurlike aan ons stel, is volgens De Villiers nie net om dit te probeer verstaan nie, maar ook om dit te gebruik.

Hy sê een van die mistastings is dat ons op die oomblik in ‘n tyd van ongekende spirituele diversiteit lewe terwyl die ou mense deur die bank gereformeerd en konserwatief in hul belewenis van die geesteswêreld was.

“As mens teruggaan en die eietydse geskrifte van Afrikaanse mense en hul voorsate lees, dan vind jy ‘n verskeidenheid religieuse opvattings, volksgelowe en selfs populêre okkulte wat oor eeue heen strek.”

“Hulle het geglo in spoke, het geeste opgeroep, het boeke van Hindoe-swami’s gelees, het probeer opstyg en astrale reise aangepak. Al in die ou Boererepublieke en Kaapkolonie.”

Die geskiedenis van die spiritisme en spokery onder Afrikaners is volgens De Villiers een wat nou as’t ware herontdek moet word. “Mens moet bo-oor die ontwrigtings spring wat intussen gebeur het.”

“En as jy dan in die 1930’s of 1950’s land, dan sien jy hoe C Louis Leipoldt en FJM Potgieter en TJ Haarhoff in hul eie woorde oor dinge soos geeste en telepatie skryf.”

In die dae toe Die Huisgenoot nog die Afrikaanse New Yorker was (die 1930’s en 1940’s) het daar nouliks ‘n maand verbygegaan dat daar nie oor die spiritisme of karma of parapsigologie berig is nie. Spookbeheptheid was oral en is onmoontlik om mis te kyk.

Die spore lê steeds ook daar in die letterkunde van mense soos GA Watermeyer en DJ Opperman. Of in die verslae wat parapsigoloë aan universiteite soos Wits of Pukke agtergelaat het. Of in ‘n verskeidenheid kommissieverslae in kerkargiewe.

Buiten vir Eugéne Marais se uitnemende waarnemings, het hy ‘n wonderlike verbeelding gehad. Hy was die eerste persoon, sover ‘n mens kan vasstel, wat in Afrikaans oor feetjies geskryf het.

Dr. Rina Steyn, opvoedkundige van die Paarl het ‘n paar gedeeltes voorgelees uit Die Groot verlange deur Leon Rousseau.

Dr Rina Steyn

“Toe sy verslawing al ver heen was, het hy ‘n aantal jare by mevrou Jesse Cross en haar gesin gewoon. Hy het baie tyd saam met haar vyfjarige dogtertjie, Edna, spandeer.

Een skemeraand fluister hy by haar venster: “Kom kyk hier.”

“Wat is dit?”

Langs die heining staan ‘n paar knoetsige denneboompies. Toe Edna uitkyk, sien sy ‘n feetjie, ‘n regte feetjie, langs een van die bome dans. Sy wil net uitgaan om te gaan kyk, maar hy hou sy vingers dringend voor sy lippe.

“Moenie hard praat nie. Jy sal haar skrikmaak.”

Net toe kom ‘n paar mense in Pretoriusstraat afgestap. Edna sien hoe die feetjie agter die stomp verdwyn, maar toe die mense verby is, kom sy weer uit. Eers ‘n hele rukkie later vlieg die feetjie in die boom op en verdwyn. Dit is die wonderlikste ding wat met haar kon gebeur het.

“Ek het nooit daaraan getwyfel dat daar feetjies is nie,” sê sy later. “Oom Engéne en ek het hulle saam gesien.

Een aand vertel hy vir Edna van ‘n dogtertjie met ‘n toorstokkie wat haar onsigbaar kon maak. Edna is onmiddellik dol oor die gedagte – al wat sy toe wil hê, is ‘n toorstokkie. Twee weke later roep hy haar: “Kom kyk wat het ek vir jou”, en hy wys haar ‘n stokkie van ongeveer twee en ‘n halfduim lank, die een helfte skerpgemaak en met die bas nog aan die ander helfte.

“Wat is dit?”

“Dis ‘n toorstokkie.”

‘n Toorstokkie! Wat sou sy nie alles daarme doen nie?

“Hou dit in jou hand en kyk stip daarna”, sê hy. Toe neem hy haar aan die pols en skud haar hand effens. “Stap nou”. En sy begin stap, by die huis uit, by die trappies af, om die huis tot by die lukwartboom.

“Moenie net na jou stokkie kyk nie,” sê hy. “Jy moet kyk waar jy gaan. Kyk op die grond.”

Toe sien sy ‘n trippens onder die lukwartboom lê. Die stokkie het dit uitgewys!

Maar toe sy die stokkie wil hou, sê hy: Nee, dis glad te gevaarlik”, en dit was ook die laaste sien.

“As kind het ek by oom Eugéne nooit geweet waar fantasie eindig en waar die werklike lewe begin nie,” vertel Edna later. “Wat hy my ookal vertel het, het ek geglo.”

Eers jare later, toe sy al twaalf of dertien was, sê sy vir haar oom Eugéne: “Die mense dink ek is mal omdat ek in feetjies glo. Maar daar is mos feetjies. Onthou oom nie daardie aand toe ons die een by die denneboom sien dans het nie?”

Toe lag hy, en na al daardie jare vertel hy haar dat dit ‘n poppie was wat hy soos ‘n feetjie aangetrek en met ‘n stukkie swart garing gemanipuleer het. Haar broer Charles het hom daarmee gehelp.

Marais het ook die Waterbergers oortuig dat hulle spoke sien, maar dit is ‘n storie vir ‘n ander keer.”

Terug na sy tyd oorsee.

Marais het ‘n huis in Londen gedeel met ‘n groepie Duitse studente. Hoewel geeneen van hulle se name bekend is nie speel hulle in die res van Marais se verblyf in die buiteland ‘n belangrike rol en dit is deur hulle dat ons nou kom by drie van sy bekendste studierigtings in Europa – skynbaar teenstrydig, maar vir Marais nouverwant en aanvullend – naamlik die geneeskunde, die sielkunde en die bonatuurlike.

Om te begryp waarom hierdie drie gebiede vir Marais verband hou, moet ‘n mens teruggaan na die einde van die 18de eeu, toe ‘n Oostenrykse dokter, Frans Anton Mesmer, die hele Parys aan die praat gehad het met sy vermoë om siekes deur middel van “diere-magnetisme” te genees. In werklikheid was dit niks anders as hipnose – “mesmerisme” – nie, waarin Mesmer ‘n meester was. Nadat ‘n Franse koninklike kommissie Mesmer se metodes ondersoek en hulle gevaarlik beving het, verdwyn Mesmer van die toneel, maar sy metode word deur ander voortgesit, party bedrieërs en charlatans, ander ernstige ondersoekers. Een van laasgenoemde was dokter John Elliotson. Hoewel sy pogings om die gebruik van mesmerisme in die geneeskunde aanvaar te kry, misluk het, word hy vandag onder meer onthou omdat hy daarin geslaag het om die skrywer, Charles Dickens, die tegnieke van hipnose te leer.

Teen die middel van die negentiende eeu waai ‘n nuwe modeverskynsel, die spiritisme, uit die Verenigde State na Brittanje en die Vasteland oor. Baie van die bedrieërs wat hulle geld uit mesmerisme gemaak het, ontpop nou oornag as spiritiste. Talle mense, onder wie ‘n groot persentasie weduwees en ook neurotiese persoonlikhede woon séances by, hoor hoe boodskappe van die hiernamaals deur middel van ‘n getok op die tafelblad oorgedra word, hoor die gestorwenes met die stem van ‘n medium of “sensitiewe” praat, sien later in die eeu “spookhande” verskyn, en nog later hoe oorledenes gedeeltelik of geheel en al uit ektoplasma materialiseer. Ander artieste lees gedagtes (telepatie), laat voorwerpe op ‘n afstand beweeg (telekinese), sweef in die lug (levitasie) en gee vertonings van heldersiendheid (clairvoyance).

Tussen al die bedrieërs is daar ook diegene wat ontsag inboesem, soos D. D. Home, wat die toneel in die vyftien jaar tot 1870 oorheers – die goue jare van Victoriaanse spiritisme. “Men and women who scorned the vulgarity of lesser mediums cultivated Home,” sê Ronald Pearsall in The Table Rappers. “He did not make spiritualism respectable, he made it fashionable.”

Nou vertel Marais self in Laramie, die wonderwerker, soos opgeteken in versamelde werke II

Dit was in Parys dat ek vir die eerste maal met die Italiaanse medium Eusapia Palladina kennis gemaak het. Deur bemiddeling van ‘n vriend, ‘n mediese student, het ek ‘n uitnodiging ontvang om ‘n séance by te woon waar Palladina haar bonatuurlike kragte sou ten toon stel. Daar was ongeveer 20 mense teenwoordig, maar onder die groepie was sommige van die vernaamste wetenskaplike groothede in die wêreld.

Een hoek van die vertrek was deur ‘n gordyn afgeskort en op hierdie gordyn was alle oë gevestig. Niemand het hard gepraat nie en die gefluister en skemerduister waarin die kamer gehul was, het die indruk van een of ander gewyde plegtigheid gemaak. Daar was ‘n stadige beweging van die gordyn asof dit deur ‘n sagte wind heen en weer gewaai word, maar daar was geen beweging van lug in die vertrek nie. Die gordyn is opsetlik deur ‘n mensehand geroer.

Hoe lank die beweging aangehou het, kan ek nie sê nie, maar dit het ‘n eienaardige uitwerking op my gehad; dit onthou ek nog goed. Die hele wêreld was uitgesluit. Ek hoor niks en sien niks behalwe hierdie stadige beweging van die doek nie. Toe gryp ‘n hand van agter die skerm die kant van die doek – ‘n groot growwe hand. Dit word opsy getrek en ‘n minuut later tree Eusapia Palladina te voorskyn.

Die kamer was skemerdonker – so donker dat dit onmoontlik was om gewone druk te lees, maar lig genoeg om die gesigte van die aanwesges te herken.

Eusapia het op ‘n stoel langs die tafel gaan sit. Sy was ongeveer twee voet van die naaste tafelpoot verwyder. Omtrent drie of vier voet bo die tafel sien ons ‘n dowwe mistigheid, ‘n klein wit wolkie wat stadig na benede sak. ‘n Paar duim bo die tafel begin dit ‘n meer definitiewe vorm aanneem. Ek kon duidelik die geur van blomme ruik, en toe die voorwerp op die tafel te ruste kom, sien ons dadelik dat dit ‘n groot ruiker vars blomme is. Palladina het dit nooit aangeraak nie. Die ruiker is deur een van die komiteelede opgeneem en rondgegee. Dit het uit angeliere en rose bestaan en was klaarblyklik net gepluk. Al die blomme was nat met dou of water en die geur het die hele vertrek gevul.

Die tweede verskyning wat my spesiaal geïnteresseer het, was die levitasie van die tafel. Hierdie meubelstuk was ‘n taamlike swaar eetkamertafel, waarby ses mense kon aansit. Skielik sien ons die poot naase aan Palladina van die grond af oplig, omtrent ‘n voet hoog, en toe met ‘n geweldige stamp weer op die vloer te ruste kom. Toe lig die hele tafel stadig van die grond, totdat dit omtrent ‘n voet bo die vloer in die lug sweef. Geleentheid is toe aan al die teenwoordiges gegee om die tafel te ondersoek. Saam met die meeste van die verteenwoordigers het ek verskillende male om die tafel geloop, tussen Palladina en die tafel verby. Ek probeer om dit met een hand af te druk. Daar was ‘n sekere mate van veerkrag waarneembaar, maar selfs met gebruikmaking van byna al my gewig kon ek die tafel nie een duim na benede verroer nie.

Ek het self ‘n wandelstok bo en onder deur die tafel beweeg, sodat ek myself oortuig het dat dit deur geen tou van bo of ‘n stut van onder in die lug gehou word nie. Ons is toe deur die komitee versoek om ‘n tree agteruit te staan, en ons sien toe die swaar tafel stadig hoër en hoër gaan, totdat dit teen die plafon raak. Net so stadig het dit weer afgedaal en op dieselfde plek op die vloer te ruste gekom.

Toe die séance oor was, het almal onvoorwaardelik verklaar dat daar geen bedrog kon gewees het nie, en dat daar geen natuurlike uitleg was vir wat ons gesien en getoets het nie.

Foto’s:  Isabeau Botha

Dr Rina Steyn, dr Niel du Toit en Johannes Bertus de Villiers

Na afloop van die gesprek is daar soos gewoonlik heerlik saam gekuier by Zonmerlust gastehuis

Zomerlust

Simonsvlei het die wyn geborg

Dr Rina Steyn, Johannes Bertus de Villiers en Jean Oosthuizen

Die gaste het tot laataand in Zomerlust se tuin gekuier

Deel hierdie:


Laat 'n boodskap